Roodies-hoof groet na 13 jaar

Johan van Jaarsveldt tydens die afskeidsfunksie wat vir hom gehou is.

 

Hoërskool Roodepoort het tydens ‘n glansryke afskeidsfunksie hul hoof van die afgelope 13 jaar gegroet.

Johan van Jaarsveldt, wat sedert 2004 aan die stuur van die skool gestaan het, het ‘n pos as hoof aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) Middelburg aanvaar. Tydens die funksie het skakelbeampte Pieter Grobler gesê, “Hoppie, soos wat hy bekend staan, is ‘n baie lojale persoon. Hierdie was maar die derde skool waar hy skoolgehou het.”

Seremoniemeester René Venter het bygevoeg, “Hoppie het in Roodepoort in gehop, en nou hop hy uit Mpumalanga toe, maar ek glo dat hy nie net sal groei waar hy geplant word nie, maar ook sal blom”.

Johan van Jaarsveldt tydens die afskeidsfunksie wat vir hom gehou is. Foto’s: Verskaf

Ryan Fell, die hoofseun vir volgende jaar het tydens sy toespraak vertel dat die hoof hom altyd met ‘n groot glimlag gegroet het, en dat hy altyd langs die rugbyveld was om hulle te ondersteun. “Ek wens meneer net die beste toe vir die jare vorentoe,” het hy gesê.

Die hoofdogter vir volgende jaar, Keemetswe Sebogodi, het in haar toespraak gesê dat die hoof altyd tyd vir die leerders en personeel gehad het, en dat hy ‘n hoof was wat omgege het. “U skoene is ‘n paar wat moeilik gevul sal word, en al wat ek vir u wil sê is, staan op en skyn, want u lig en tyd het aangebreek. Soos meneer die Roodie Droom agterlaat, wens ons u sterke toe vir die volgende droom wat voorlê,” het sy gesê.

Johan het gesê dat, alhoewel hy hartseer was om Hoërskool Roodepoort se leerders en personeel te groet, hy opgewonde is oor die nuwe uitdagings en verantwoordelikhede wat vir hom voorlê. “Ek het my hart in die platteland gelos, en nou gaan ek huis toe. Dankie dat ek 13 wonderlike jare saam met elkeen van julle kon meemaak. Dankie aan die beheerliggaam wat al die jare saam met my die pad gestap het, en ‘n spesiale dankie aan Dok Piet Grobler, sonder u mentorskap sou ek nie kon doen wat ek het nie,” het hy gesê.

Hy het met die volgende woorde afgesluit, “Dit is nie belangrik wie en wat jy is nie, of waar jy vandaan kom nie. Jy word gedefinieer deur wat jy vir mense kan doen en beteken. Ek gaan u mis.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Adéle Bloem
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Florrie-onnies deur draf-gogga gebyt