Wiskunde-blitsbrein wen in Thailand

JC ROux met sy trofees en medaljes wat hy verower het. Foto's: Adéle Bloem

 

“Toe ek my naam op die bord sien, was ek sprakeloos, maar ek was baie tevrede, want dit is waarvoor ek gewerk het,” het JC Roux, 12, gesê.

Hy het onlangs aan die Global Association of Japanese Soroban and Mental Arithmetic (GAJSMA) Wêreldkampioenskappe in Bangkok, Thailand deelgeneem, en is as die Super Champion in sy kategorie gekroon. Dit was die derde jaar dat hy aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem het, en die tweede agtereenvolgende jaar dat hy die beste presteer het. “Dit is waarvoor ek gewerk het, en ek sou met niks anders as ‘n eerste plek tevrede gewees het nie,” het JC vertel. Vanjaar is 21 lande by die kampioenskappe verteenwoordig.

JC Roux het ook die Ambassadeurstrofee by Laerskool Dr Havinga verower.

Hy het vertel dat hy voor die kompetisie elke dag (behalwe Sondae) agt uur lank geoefen het om te verseker dat hy sy beste kon gee. “Voor die kompetisie begin het, het ek so ‘n klein bietjie gestres, want as jy in ‘n saal instap en jy sien 9 900 kinders wat ook deelneem, skrik jy nogal. Maar, ek het vertrou dat ek gereed was om my doel te bereik. Ek het wel voor die kompetisie so nege keer gebid ook!” het hy glimlaggend gesê.

Hy vertel dat hy baie verlig gevoel het toe al die toetse afgehandel was. “Ek was tevrede met wat ek gedoen het, en het geglo dat ek hard genoeg gewerk het om my doel te bereik,” het hy gesê.

JC se ma, Luitha Roux het vertel dat almal wou weet hoe hy dit reggekry het om so kalm te bly, en haar antwoord was eenvoudig, “Baie voorbereiding en genoeg oefening”. Sy het bygevoeg dat sy vir JC gehelp het met sy voorbereiding en, alhoewel sy nie noodwendig meer kan help met die somme nie, kan sy hom help om sy tyd te verminder. “Ons het so twee weke voor die kampioenskappe gehoor dat hy met ‘n ander abakus as waaraan hy gewoond was, moes deelneem. Alhoewel dit kort kennisgewing was, het ons net ‘n bietjie harder geoefen sodat dit hom nie sou benadeel nie,” het sy vertel.

JC is alreeds besig om vir volgende jaar se wêreldkampioenskappe in Kaapstad te oefen. Hy het vertel, “Ek het twee weke nadat ons van Thailand af teruggekom het, aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem. Daar is ek ook as Super Champion gekroon en het vir die wêreldkampioenskappe gekwalifiseer.”

Hy presteer nie net buite skoolverband nie, maar hou ook sy skool se naam hoog. Hy was vir twee jaar na mekaar Laerskool Dr Havinga se Wiskunde Blitsbrein-kampioen, is as ‘n 2018-onderhoofleier aangewys en het ook met die skool se Ambassadeurstrofee weggestap.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Adéle Bloem
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Som-slimkop eindig tweede in Thailand