Ons kant van die saak

Theresa Kruger van Witpoortjie skryf:

Die artikel, Eyewitnesses needed in Witpoortjie accident wat op 23 Maart op jul webblad verskyn het, verwys.

My dogter was in die silwer Diahatsu Sirion waarna Smith verwys. Ek wil net hiermee ons weergawe vertel. Smith het net na die ongeluk op die community forum-blaaie op Facebook ‘n verdraaide weergawe gegee wat later verwyder is, en nou weer in bogenoemde berig verskyn het.

Op 4 Januarie het Tanya omtrent 5.15nm in die middelman in die kruising gestaan om oor Generaal Pienaar te ry na die Engen garage toe. Sy het gekyk en daar was geen aankomende verkeer nie. Sy het toe oor die kruising gery. Sy sal ook nie onverskillig ry en kanse vat met haar kind in die kar nie. Die volgende oomblik was die wit BMW op haar. Hy het van Main Reefweg [Albertina Sisuluweg] af teen ‘n baie hoë spoed aangekom. Dit gaan my verstand te bowe dat hy so vinnig by die Spar – waar almal na werk stop vir inkopies en waar daar ‘n geverfde voetoorgang is – kon verbyry.

Hy het haar kar voor links op die neus gestamp na hy uitgedraai het, waarna haar kar in die rondte getol het. Hy het haar kar weer agter aan die linkerkant gestamp en haar kar het met sy neus na die aankomende verkeer toe tot stilstand gekom. Iemand het haar en die baba gehelp om uit die kar te kom.

Sy het my dadelik gebel en gevra om te kom help. Met my aankoms is daar vir my gesê dat iemand reeds ‘n ambulans gebel het. Sy het verskeie beserings opgedoen. Nadat die ambulans opgedaag het, was sy die heeltyd in die ambulans waar die paramedici haar en haar baba ondersoek het.

Terwyl hulle met haar in die ambulans besig was, het ons besonderhede met Vincent Smith (bestuurder van die ander voertuig) uitgeruil. Hy en sy vrou het geen ooglopende beserings gehad nie, maar is ook deur een van die paramedici ondersoek.

Ek wil dit net duidelik maak dat niemand van die ongelukstoneel verdwyn het nie. Tanya was in die ambulans tot omtrent ‘n uur na die ongeluk gebeur het. Ons het die ongeluk by die polisiestasie gaan aanmeld.

Die Smiths het ons en die makelaar se kontakbesonderhede. Hulle en die eienaar van die BMW het die makelaar afsonderlik gekontak. Die versekering se regsafdeling moes die saak verder hanteer en het ons instruksie gegee om nie verder met hulle kontak te hê nie. Toe ons met die Smiths gepraat het om besonderhede uit te ruil, kon ons sien hulle was nie ernstig beseer nie, maar het aan skok gely. Hulle het ook nooit weer belanggestel om na Tanja en die baba se welstand te verneem nie.

  AUTHOR
Adéle Bloem
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Social Media Day